Zille het Woensdagaand ’n foto van ’n foto in die Cape Argus getwiet. In die koerantfoto is studente van die Universiteit van Kaapstad (UK) besig om bydraes te maak tot die koerant se verkiesingsuitgawe. Onder die koerantfoto is ’n stuk geskryf, maar net die eerste paar sinne is sigbaar – in die stuk word na die UK verwys as ’n “wit ivoortoring” en word die universiteit as die studente se “teësinnige tuiste” (reluctant home) beskryf.

By die twiet het Zille haar mening gelug en geskryf: “As hierdie wakker klomp (woke bunch) dit so haat om studente aan die Universiteit van Kaapstad te wees, help hulle asseblief uit hul ellende en onttrek hul finansiering.” Die twiet het dadelik heelwat reaksie ontlok en is meer as 380 keer op Twitter gedeel. Zille het Woensdagaand ’n bietjie later uitgebrei en haar twiet probeer verduidelik.
Die voormalige leier van die DA moes egter Donderdagoggend nog Twitter-aanvalle afweer.
Fikile Mbalula het ook op Zille se twiet gereageer.
Intussen het Zille voortgegaan om die verkiesingsuitslae dop te hou.