Die 23-jarige aktrise en die akteur, wat in die fliek Bel Ami gespeel het, vat glo ’n “blaaskans” van hul romanse van vier jaar en Kristen het haar omring met hegte vriende wat haar opgebeur moet help bly. “Kristen is baie hartseer en steun op haar vriende,” het iemand in die binnekring aan HollywoodLife.com gesê.

Die brunet bring glo baie tyd deur saam met haar Twilight-medester Taylor Lautner, wat haar ook ondersteun het toe Robert vroeër vanjaar aan die fliek The Rover in Australië gewerk het. Taylor het vir Kristen na ’n konsert geneem en die twee het ook saam bofbal gespeel.

Volgens Us Weekly was daar “probleme” tussen Robert en Kristen en het die twee die afgelope ruk “gereeld baklei”. Dit het glo op 13 Mei, op die akteur se 27ste verjaardag, kookpunt bereik toe Robert nie die verrassingspartytjie wat Kristen vir hom beplan het, bygewoon het nie en toe liewer saam met vriende vir die aand uitgegaan het. Die aktrise was in trane daaroor.

Dis nie die eerste keer dat die twee se paaie skei nie. Robert het verlede jaar twee maande met haar uitgemaak nadat Kristen gekiek is waar sy Rupert Sanders soen. Hy is die getroude regisseur van Snow White and the Huntsman. Hulle het later versoen vir die bemarking van die laaste Twilight-fliek, Breaking Dawn: Part2. Dit het toe gelyk of hulle hul verskille uitgestryk het.