Kristen Stewart het Woensdag drie ure lank by haar ekskêrel Robert Pattinson in sy omheinde woonkompleks in Beverly Hills gekuier. Dit het gerugte laat ontstaan dat die twee weer gaan probeer.

Die On The Road-aktrise, wat in Mei met die Britse akteur uitgemaak het nadat hulle vier jaar saam was, het ná die besoek met haar bakkie agter sy Jeep aan gery na haar huis toe.

’n Bron het aan UsMagazine.com gesê die voormalige paartjie het in verskillende rigtings gery toe hulle besef fotograwe het hulle herken en Kirsten is toe alleen na haar blyplek toe terug.

Die twee, wat ontmoet het toe hulle aan die Twilight Saga-trilogie gewerk het, het hul verhouding beëindig nadat hulle gesukkel het om die “opbesonne oomblik” te verwerk wat die 23-jarige aktrise in Julie 2012 met haar Snow White and the Huntsman-regisseur Rupert Sanders gehad het.

Robert en Kristen het glo in Augustus laas tyd saam deurgebring. ’n Bron het toe voorspel hulle sal weer by mekaar uitkom nadat hulle ’n “baie diep gesprek” by Kristen se huis gehad het.

Die bron het destyds gesê: “Hulle sal waarskynlik aangaan waar hulle opgehou het. Rob is obsessief oor haar.”

Die 27-jarige hartebreker se naam is onlangs romanties aan dié van Sean Penn se dogter, Dylan Penn, gekoppel. Hy het ook vroeër vanjaar ’n korstondige romanse met Riley Keough gehad.

Kristen het glo in Augustus met haar Camp X-Ray-medester Lane Garrison uitgegaan.