Kris Jenner sê haar grootste berou is haar egskeiding van Robert Kardashian.

Kris (57) het vroeër hierdie week bevestig sy en Bruce Jenner is uitmekaar. Dit lyk nou asof sy wens hulle het nooit getrou nie. Hulle het twee dogters, Kendall (17) en Kylie (16).

Kort voort hul skeiding bekendgemaak is, het Kris aan New You gesê haar een berou is haar egskeiding van Robert Kardashan. “Maar dan sou Kendall en Kylie nie daar gewees het nie; dis soos ek daarna kyk.

“Alles gebeur met ’n rede, en ons leer uit ons foute. Ek het gedink ek was so slim toe ek jonk was; ek was vreesloos.”

Kris en Robert was van 1978 tot 1991 getroud en het die kinders Kourtney, Kim, Khloé en Rob gehad. Robert is in 2003 dood aan kanker van die slukderm. Hy was veral bekend as die prokureur wat OJ Simpson met sy moordverhoor in 1995 verdedig het.

Kris het gesê haar enigste seun, Rob, laat haar baie aan sy pa dink. “Hulle lyk dieselfde, tree eenders op en het dieselfde maniertjies. Dis ’n wonderlike herinnering aan hoe ’n wonderlike pa Robert was. Hy was ’n goeie pa en ’n goeie mens.”