Kris Jenner se suster beweer Kris het haar man, Bruce Jenner, verkul.

Karen Houghton beweer Kris (57) het haar vertel sy het Bruce verkul nadat hulle bekendgemaak het hulle gaan uitmekaar.

Kris en Bruce was meer as 20 jaar getroud en het twee dogters, Kendall (17) en Kylie (16).

Karen het aan die Amerikaanse tydskrif Star gesê: “Kris het erken sy het Bruce verkul. Dis so snaaks, want ek kan nie sien dat ’n man haar verkul nie. Sy is so sterk.”

Karen glo Bruce was altyd aan Kris getrou. Hoewel die egpaar gesê het hulle gaan nie skei nie, dink Karen haar suster sal gouer met haar lewe aangaan as Bruce.

Sy het gesê Bruce sal mettertyd iemand anders vind as hulle skei. “Maar ek waarborg jou, Kris sal iemand anders binne twee dae vind.”

Karen reken Kris is nie heeltemal gelukkig nie. Dis waarom sy as bestuurder optree vir haar kinders Kourtney (34), Kim (32), Khloé (29) en Rob (26). Hulle is uit haar huwelik met die prokureur Robert Kardashian gebore. Hy is intussen oorlede.