Kris en Bruce Jenner se skeiding sal die fokuspunt wees van die nuwe reeks van Keeping Up with the Kardashians.

Die twee het gister aangekondig hulle beëindig hul huwelik van 22 jaar. Bewonderaars sal in die komende reeks van hul E!-werklikheidsprogram kan sien hoe hulle hul afsonderlike lewe hanteer.

Volgens die skinderwebtuiste TMZ sal die nuwe episodes wys hoe die twee afsonderlik woon, maar saam is by verskeie gesinsgeleenthede. Net ure nadat die geregtelike skeiding aangekondig is, is Bruce opgemerk waar hy en hul dogters, Kylie (16) en Kendall (17), verfilm word.

Kris (57) sê sy en Bruce (63) is nog goeie vriende, en sal hul gesin altyd voorop stel.

Sy het aan Us Weekly gesê: “Ons woon afsonderlik. Maar daar is geen vyandskap nie. Ons is verenig en toegewy aan ons familie.

“Ons het ’n huwelik beëindig, maar dis nie die einde van ons vriendskap nie. Ek sal hom altyd liefhê, maar ons is nie meer op daardie manier ’n paartjie nie. Ons is gelukkiger so.”

Kris se eerste man, Robert Kardashian, is in 2003 oorlede. Hy is die pa van haar kinders Kourtney (34), Kim (32), Khloé (29) en Rob (26). Bruce het ook vier ander kinders uit vorige verhoudings.