cornemain

Corné Geyer se ouers se prokureur, Eben Klue, het aan Huisgenoot gesê dat Corné Dinsdag ’n hospitaal besoek het sodat sy wonde verder ondersoek kon word.

Netwerk24 het Dinsdag berig dat Corné verlede Donderdag by die skool aangeval is. Hy is ernstig beseer nadat ’n ander leerder hom glo herhaaldelik in die gesig geskop het.

“Hy is nog baie emosioneel en het ook berading gekry,” sê Eben.

Eben het bevestig dat Corné se ouers ’n kriminele klag teen die leerder ingedien het wat Corné na bewering geskop het.

“En ek is nog besig om met ooggetuies te konsulteer oor die siviele eis. Ons gaan beslis ’n siviele eis instel teen die kind wat hom aangerand het.”

Eben sê Corné kan Vrydag terugkeer skool toe. “Maar of hy wel sal gaan, sal ons nog sien. Hy het baie seergekry. Nie net liggaamlik nie, maar ook emosioneel.”

Jessica Shelver, ’n woordvoerder van die Wes-Kaapse departement van onderwys, het by navraag gesê hulle is baie besorg oor die aggressiewe aard van die aanval op Corné.

Volgens Jessica sal die leerder wat Corné na bewering aangerand het, volgende week voor ’n dissiplinêre verhoor verskyn.

“Die skool hanteer die saak ingevolge hul gedragskode en die oortreder is geskors hangende die dissiplinêre verhoor.”

Volgens sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, word ’n saak van aanranding ondersoek.

“Luidens berigte het die slagoffer en die verdagte (albei 13) op 23 Februarie baklei. Corné is beseer en na ’n hospitaal geneem vir mediese behandeling.

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Die skool het Huisgenoot na die onderwysdepartement verwys vir kommentaar.