Die Protea-krieketspeler, Duanne Olivier, het Vrydag vir sy meisie van die afgelope vier jaar, Casey van Dyk, die jawoord gevra!

Die 24-jarige Duanne het vanjaar teen Sri-Lanka sy debuut in die Proteaspan gemaak. Hy speel gewoonlik vir die Knights, die Vrystaatse krieketspan.

“Sy het dit glad nie verwag nie,” het hy aan Netwerk24 gesê.

Duanne het gereël dat ’n helikopter met hom en Casey (24) oor die strand by Port Elizabeth vlieg. Hy het vroeër op die sand die woorde “Will you marry me?” geskryf.

Toe die helikopter oor die strand vlieg en die niksvermoedende Casey die woorde sien, het hy die ring uit sy sak gehaal.

“Dankie dat jy my sprokie elke dag waar maak,” het Casey op Facebook geskryf.

“Dankie dat jy my gekies het.

“Ek belowe om jou elke dag lief te hê."