“Die waarskynlikheid van ’n tekort in vermoë, is hoër as gewoonlik. Dit beteken ons reserwespeling is nie wat ons wil hê dit moet wees nie,” sê  Andrew Etzinger, die kragreus se waarnemende woordvoerder.

“Toe ons die kragstelsel ontleed, het ons die risiko van onverwagte kragonderbrekings en hoër as verwagte aanvraag in ag geneem, en op grond daarvan kan ons die moontlikheid van tekorte bereken.”

Hy sê die somer is ’n moeilike tyd vir Eskom, want die meeste onderhoud word nou gedoen. In die somer bly die aanvraag die hele dag lank hoog omdat mense lugverkoelers gebruik.

“In die somer word aanvraag deur ons nywerheids- en kommersiële klante aangedryf. In die somer moet ons ook die meeste van ons onderhoud doen,” het Andrew gesê.

Die vermoë wat beskikbaar was om aan Maandagaand se spitsaanvraag te voldoen, was 31 200 MW, terwyl die verwagte vraag 30 934 MW was.

Daar was dus maar sowat 200 MW reserwe.

“Dit beteken ons vermoë om hoër as verwagte aanvraag of onverwagte aanvraag te hanteer is veel minder as wat dit moet wees.

“Om dié situasie te bestuur het ons die publiek se hulp nodig, want as ons die aanvraag tot beheerbare vlakke kan verlaag . . . sal dit in die haak wees; op die oomblik is dit nie,” het Andrew gesê.

Die kragbeperkings is landwyd.

Die verwagte spitsaanvraag vir die res van die week is 30 888 MW op Dinsdag, 31 073 MW op Woensdag, 30 897 MW op Donderdag, 30 287 MW op Vrydag, 29 167 MW op Saterdag en 28 476 MW op Sondag.

Andrew het gesê Eskom verwag die aanvraag sal ná twee weke daal wanneer die twee groot opwekkers wat tans onderhoud ondergaan, weer in diens gestel sal word. Die aanvraag na elektrisiteit sal na verwagting ook oor die Kerstyd afneem wanneer ondernemings toemaak. - Sapa