“Die noodsituasie sal waarskynlik tot ná die spitstyd vanaand voortduur, en ons sal voortgaan om die stelsel te bestuur,” het hy aan parlementslede in die nasionale vergadering gesê.

Gigaba het bevstig die swaar reën in Mpumalanga het Eskom se steenkoolvoorraad laat nat word.

“Oor die afgelope week het die kragonderneming sy droë steenkoolvoorraad by party kragstasies uitgeput weens die reënweer. Dit het bygedra tot ernstige stelselbeperkings weens die laer uitset as gevolg van die nat en swakgehalte-steenkool,” het hy gesê.

Maar dit is nie die enigste rede vir die elektrisiteitstekort nie.

“Gisteraand het Eskom drie eenhede by die Kendall-kragstasie (in Mpumalanga) verloor en moes hulle ook die uitset by ander kragstasies verminder,” het Gigaba gesê.

Lae damvlakke by kragstasies in die Drakensberg- en Palmiet-pompbergingskema het ook die “kragnood” vererger.

“Die aanlegte dien as reserwes tydens spitstye, en tydens beperkings is hulle buite die spitstye gebruik, vandaar die lae reserwes by die damme,” het Gigaba gesê.

“Dit is vererger deur die verlies aan invoere deur Zimbabwe se elektrisiteitsvoorsieningsowerheid.”

Eskom moes noodgedwonge vanoggend ’n noodtoestand afkondig en kragonderbrekings instel.

“Nadat al die reserwes gebruik is en ná ’n afname deur groot nywerheidsklante, was ’n bykomende vermindering in aanvraag van sowat 3 000 MW vanoggend agtuur nodig om die elektrisiteitstelsel te balanseer,” het Gigaba gesê.

“Om vir die tekort voorsiening te maak vereis Eskom se noodprotokol dat alle klante, onder meer Eskom en die munisipaliteite, hul aanvraag met 20 persent deur beurtkrag moet verminder.”