Roof en Eddie Brink is broers, albei van Stellenbosch se wêreld. Daar het hulle in 2000 as studente by Maties Nagligte saam Wynand Jonker begin ná 'n ontmoetting tussen Roof en Wynand. Albei was aanvanklik skepties oor die ander se musikale vernuf, maar na 'n paar optredes was die skrif aan die muur: die manne was reg om saam musiek te maak!

Maar vir meer as 'n dekade daarna is die droom vir eers eenkant toe geskuif om plek te maak vir trou en kinders kry. Eers laasjaar het Roof en Wynand die droom weer afgestof en Eddie betrek om te begin liedjies skryf.

"Ons was so moeg vir ons werk. Ons wou net iets doen om uit hierdie sieldodende bestaan te kom," vertel Roof. Al drie is voltydse besigheidsmanne. Roof is 'n belegginsanalis; Eddie is 'n rekenaarspesialis en Wynand 'n advokaat.

En nou, uiteindelik, is hul eerste enkelsnit Dit Stop Nou uitgereik. Hul vriend Hunter Kennedy van die gewilde groep Die Heuwels Fantasties het hulle met Fred den Hartog verbind wat Die Heuwels Fantasties se albums vervaardig. Die gerekende musiekvervaardiger Francois de Klerk is toe later betrek.

"Francois het vir ons 'n stuk musiek gestuur en gesê ons moet kyk waarmee ons kan vorendag kom," vertel Eddie. "Ons was dadelik mal daaroor en Wynand het vinnig met 'n melodie vorendag gekom. Ons drie het toe saam die lirieke geskryf," vertel hy.

"Ons het 'n baie duidelike idee gehad van hoe ons wou klink," voeg Wynand by.

Maar watter boodskap wil hulle graag met hul musiek na buite stuur? "Ons wil net vir almal sê: Dit maak nie saak wie jy is en wat jou omstandighede is nie, daar is altyd hoop in die donker. Word wakker. Word groot. Staan op."

Die manne droom daarvan om binnekort 'n volledige album op te neem.

Intussen luister solank na Nagligte se eerste enkelsnit hier: