Die trui is die skepping van die Britse ontwerper Cath Kidston. Daarmee het George ’n wit kraag-polohemp, vlootblou kortbroek en bypassende knielengtesokkies aangehad. Die Kensington-paleis het dié foto’s uitgereik waarin die prinsie ondeund glimlag.

Die foto’s is geneem op die trap van die binnehof van sy koninklike woning by die Kensington-paleis. Sy ouers vermy steeds die tradisionele formele foto’s en deel pleks daarvan foto’s met ’n informele gevoel.

’n Lid van hul personeel, die gewese vryskutfotograaf Edward Lane Fox, prins Harry se privaat sekretaris, het die foto’s geneem. Hy het verlede jaar by die kantoor van die hertog en hertogin en prins Harry by die Kensington-paleis aangesluit.

Dit volg nadat die paartjie besluit het om kort ná George se geboorte ’n foto te deel wat hertogin Catherine se pa, Michael Middleton, geneem het. Dit was die eerste amptelike foto van George ná sy geboorte.

Die kleintjie is duidelik gemaklik voor die kamera en volg in sy ouers se modespore.

Sy ouers het onlangs teruggekeer van ’n kort amptelike besoek aan Amerika. Die swanger hertogin het gepryk in ’n reeks glansryke uitrustings, insluitend ’n middernagblou Jenny Packham-aandrok en opvallende oorbelle.

© Cover Media