[caption id="attachment_139806" align="alignnone" width="600"]Kosie kort na de ongeluk. Foto: Papi Morake Kosie kort na de ongeluk. Foto: Papi Morake[/caption]

“Hy wil nie regtig saam met maatjies speel nie en is baie senuweeagtig. Hy sit heeltyd sy handjie in sy mond en kou gedurig sy hempie. Dis van senuweeagtigheid,” sê sy ma, Caroline (40). Huisgenoot het in September oor die voorval berig.

Kosie (7) en sy sussie Bianca Wessels (11) het Saterdag, 3 September in en om hulle huis in Polokwane gespeel, terwyl Caroline (39) skoongemaak het. Teen die middag is Bianca na haar ouma toe in 'n woonstel op dieselfde erf. Kosie het 'n bomklapper in sy ousus, Annabellle Strydom (17), se kamer gekry. Haar kamer was gewoonlik gesluit maar die middag was dit oop omdat haar ma daar wou skoonmaak.

Met die klapper in sy linkerhand en vuurhoutjies in die ander is Kosie televisiekamer toe. Daar het hy 'n vuurhoutjie getrek en die klapper aangesteek. Die klapper het in sy linkerhand ontplof.

Steke aan die buitekant van sy handjie is onlangs verwyder; sy handjie is skoongemaak en die roof afgehaal na verdowingdruppels die gevoel verdoof het. En oor twee tot drie weke moet Kosie teruggaan dokter toe. “As sy handjie nie verbeter het nie, sal 'n veloorplanting gedoen word,” sê Caroline telefonies uit Polokwane.

Kosie ontvang steeds sielkundige behandeling. “Hy is baie rusteloos,” sê sy ma.

Hy is nog nie terug op die skoolbanke in Laerskool Piet Hugo waar hy vanjaar in graad een ingeskryf was nie. “Sy armpie is nog nie gesond genoeg nie – hy kan maklik die armpie stamp of seerkry en die wond bloei steeds,” sê Caroline.

'n Prostese is in die vooruitsig, maar eers wanneer die wond heeltemal genees is.

Vir Caroline was en is die afgelope maande se gebeure baie moeilik, maar sy moet sterk staan. “Dit is vir my lekker as ek die verband afhaal en dit lyk beter, maar soms sluk ek maar my trane,” sê sy.