Hoekom verras jy nie vandag jou kinders met ietsie spesiaals in hul kosblik nie? Hier is raad van Jenny Morris, Checkers se Giggling Gourmet-sjef.

Sjokolade-en-muesli-kluitjies  

“Jy kan dié sjokolade-kluitjies so groot of klein maak as wat jy wil; kies papierdoppies in die geskikte grootte,” sê Jenny.

Bestanddele

  • 250 g donker- of melksjokolade
  • 100 g muesli of grof gekapte brosbroodkoekies
  • 100 g gekapte gerooster amandels of grondboontjies
  • 100 g gekapte geglaseerde kersies
  • 30 g lig geroosterde, uitgedroogde klapper
  • mooi papierdoppies in rooi of pienk, of as jy gelukkig is, kry dié met klein hartjies

Versiering

  • geglaseerde kersies in kwarte gesny
  • versiersuiker vir bestrooiing

Plaas die sjokolade in ’n hittebestande bak oor ’n pot water wat liggies kook; maak seker die onderkant van die bak raak nie aan die water nie. Smelt die sjokolade, en roer die oorblywende bestanddele by sodra dit gesmelt is. Verwyder die bak van die hitte en laat die mengsel effens afkoel.

Skep in papierdoppies, sit kersiestukkies op elkeen en strooi ’n bietjie versiersuiker oor.

Pak in jou kind se kosblik, en onthou om een vir jou uit te hou!

- Jenny Morris