Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) van KwaZulu-Natal se batebeslagleggingseenheid (BBE) het Vrydagoggend beslag gelê op bates van R543 328 962,62 van die eiendom van die departement se Siphiwe Christopher Majola en verskeie diensverskaffers wat glo miljoene rande in agterafbetalings gekry het van Durbanse aanlegverhuringsondernemings wat kontrakte gekry het om KZN se agteruitgaande padinfrastruktuur te herstel.

Daar is berig die polisie se teenkorrupsie-taakmag (TKTM) het in 2010 bewerings rakende verkrygingsonreëlmatighede ondersoek, onder meer diefstal, bedrog en korrupsie by die departement in Pietermaritzburg.

Dit het aan die lig gekom die departement se diensverskaffers het bedrieglik verskeie tenders van die departement verkry vir verskaffingskettinggoedere en dienste vir aanleg- en grondverskuiwingstoerusting namens die departement.

Die toekenning van die tenders is voorafgegaan deur verkeie onreëlmatighede, onder meer die bedrieglike omseiling van die departement se verskaffingskettingbestuursprosessse en verbandhoudende voorskrifte.

Onder die ander bedrieglike aktiwiteite het die diensverskaffers die departement gefaktureer en geld gevra vir oormatige bedrae vir dienste wat na bewering gelewer is en dienste wat nooit gelewer is nie. Verskeie wesenlik korrupte betalings is ook aan of namens amptenare van die departement gemaak.

Kontrakte aan egpaar van Durban toegeken

Die ondersoek het onthul die departement het in die vyf jaar van April 2007 tot Mei 2012 verskeie kontrakte van altesaam R543 328 926,62 aan Barleda 232 CC, Queensburgh Equipment Rental CC en Ubunye Plant Hire CC toegeken.

Luidens ’n berig in Daily News in 2013 het Majola, wat in beheer van die toekenning van kontrakte vir korttermyn padherstelwerk en onderhoud aan verskeie ondernemings op die provinsiale databasis was, na bewering protokol vir interne verkrygingsprosedures omseil wat veronderstel was om kontrakte onder verskeie klein kontrakteurs te versprei.

In Desember 2013 het hy in die Durbanse handelshof verskyn op aanklagte dat hy meer as R2 miljoen sou kry deur kontrakte van meer as R300 miljoen aan 'n Durbanse maatskappy te kanaliseer.

Majola het na bewering die meeste van die werk toegeken aan ondernemings wat aan die Durbanse egpaar Nesha en Meganathan Govender behoort.

Volgens die getuienis in die onderskeie verklarings wat adv. Knorx Molelle, senior adjunk-direkteur van openbare vervolgings, en kapt. Sibusiso Lawrence Khawula van die Valke saamgestel het, het Majola verskeie korrupte betalings ontvang, onder meer R430 650 vir die aankoop van ’n Mercedes Benz C280, R1 500 000 vir die aankoop van Fernely Farm en verskeie kontantbetalings van sowat R5 000 000 wat vir die koop van die plaas gebruik is.

Altesaam R83 072,27 is vir die insit van ’n swembad by sy huis betaal en R146 308 vir argiteksketse van ’n huis.

’n Verdere R224 800 is betaal om veevoer vir Majola se plaas te koop.

Op 31 Maart het regter Zyl by die hooggeregshof in Pietermaritzburg vir die BBE ’n beskermingsbevel gegee om op die bates van R543 328 926,62 beslag te lê.

Die saak sal na verwagting in Junie vanjaar weer in die hof dien.

Bron: news24.com