. korkie Sy vrou, Yolande, het gesê nadat sy die nuus gehoor het, het sy haar baie vrae afgevra en besef mense het ’n keuse.

'Vandag kies ons dus om te vergewe. Ons kies liefde.'

“Vandag kies ons dus om te vergewe. Ons kies liefde. Ons kies om in Pierre se herinneringe te verheug en hom in ons hart lewendig te hou. Ons eer Pierre se nalatenskap en gee die eer aan God vir sy lewe en dood,” het sy in ’n verklaring gesê.

“Ons neem ons voor om in die omhelsing van God te leef – tot die tyd kom dat ons herenig is. Al is die pyn nou oorweldigend, kies ons om te glo dat dit ook verby sal gaan.”

Die verklaring is namens Yolande en hul twee kinders uitgereik.

Pierre en die Amerikaanse fotograaf Luke Somers is vroeg Saterdag doodgemaak terwyl Amerikaanse Spesiale Magte ’n reddingsoperasie in Jemen uitgevoer het.

Pierre en Yolande is in Mei verlede jaar in Taiz, Jemen, ontvoer. Sy het gesê haar hart breek vir haar, haar kinders, hul familie en die mense wat die pad saam met hulle gestap het.

Pierre was 558 dae ’n gyselaar, het sy gesê.

“Al is ons ná 228 in die vlees geskei toe ek vrygelaat is, het ek tot die einde in gees met hom gebly. Op 6 Desember vanjaar is my liefste vriend en metgesel en goddelike pappa van my en die kinders weggeskeur,” het die verklaring gelees.

“Die afgelope 19 maande was die vuuroond meedoënloos en rooiwarm. Ek moes dus regtig hard en lank dink aan ’n toepaslike benadering in die aangesig van hierdie pyn.”

Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer. The Gift of the Givers het haar vrylating help onderhandel.

Ten tye van die ontvoering was Pierre ’n onderwyser in Jemen terwyl Yolande in hospitale hulp verleen het.

Losprys

Die ontvoerders het sowat R32 miljoen geëis in ruil vir Pierre se veilige terugkeer.

Sondag het Yolande gesê sy het meer in een jaar gedoen as wat sy in 10 jaar gedoen het en die gesin waardeer die “spesiale mense wat God in ons lewe gebring het en gee God die glorie vir die krag wat Hy al hierdie mense gegee het.

“Ons kinders, Peter en Lize. Ek prys God vir julle. Julle is die dapperste. Gift of the Givers – dr. Imtiaz Sooliman en Anas al Hamati – ek salueer julle vir jul passievolle toewyding en deursettingsvermoë. Geen hindernis was te groot nie. Julle het my ’n tweede kans gegee om met ons kinders te wees.

"Die stamme in Jemen – ons ken nie jul name nie, maar jul bereidwilligheid om jul lewe te waag, verdien lof. Julle is ’n nasie uit een stuk. Mag God julle almal seën,” het die verklaring gelees.

Sy het die Suid-Afrikaanse regering bedank en het gesê die familie kan hulle genoeg bedank vir die ondersteuning, raad en beskikbaarheid nie, het sy gesê.

Yolande het almal bedank wat vir hulle gebid het, asook die ambassade in Jemen, die media en die Amerikaanse ambassade wat Pierre se liggaam sal repatrieer.

“Die repatriasie word opreg waardeer en is ’n baie spesiale geskenk. Ek besef daar is so baie onbeantwoorde vrae. Vergewe my asseblief as ek nie nou daarop reageer nie,” het sy gesê.

“Maandag sal Pierre na ons terugkeer soos hy in ’n visioen gesien het; ons sal afskeid neem en ’n soort afsluiting probeer bereik.”

Sy het gesê daar sal ’n gekombineerde perskonferensie wees en meer besonderhede sal volg.

’n Roudiens sal later vandeesweek in Bloemfontein gehou word, gevolg deur ’n privaat begrafnisdiens.