“(Op 27 Mei) sal Pierre Korkie ’n jaar lank gevange gehou wees,” het die woordvoerder, Michael Venter, gesê.

Militante het Pierre en sy vrou, Yolande, in Mei verlede jaar in Taiz, Jemen, gevange geneem. Yolande is op 10 Januarie vrygelaat en het op 13 Januarie na Suid-Afrika teruggekeer. Die organisasie Gift of the Givers het haar vrylating help onderhandel.

Ten tye van die ontvoering was Pierre ’n onderwyser in Jemen terwyl sy vrou in hospitale hulp verleen het.

Die ontvoerders het sowat R32 miljoen geëis in ruil vir Pierre se veilige terugkeer.

Die stigting het deur die wêreldmedia met Al-Kaïda probeer kontak maak en ’n onderhoud rondgestuur met hul kantoorbestuurder in Jemen, Anas al-Hamati. Anas was verplig om Jemen einde Januarie te verlaat vir sy eie veiligheid nadat Al-Kaïda hom daarvan beskuldig het dat hy die losprys gesteel het.

Stamleiers in Jemen het toe die gesprekke met Al-Kaïda oorgeneem.

Op 25 Februarie het stamleiers uitgevind Pierre lewe nog, maar sy gesondheid is swak. Sedertdien is geen inligting oor sy toestand beskikbaar nie.

- Sapa