Kopluise is iets wat elke mens kan tref, en dit is veral by die skool dat kinders met dié gediertes in aanraking kom. Verskrikte ma’s wil dan so gou moontlik ontslae raak van al wat ’n gogga is, en dis dalk daarom dat vele ouers en skole om die bos gelei is met “Beatle Juice”, ’n uiters gevaarlike gif wat deur middel van ’n spuit in die mond toegedien is en waarvoor ’n man in Februarie in Pretoria in hegtenis geneem is.

Maar wat moet ’n mens dan doen as die luise jou kind se kop oorgeneem het? Die apteker Carica le Grange van Worcester gee hier raad vir raadop ma’s.

Die eerste ding wat jy moet weet, sê Carica, is dat kopluise niks met higiëne te doen het nie. “Kopluise hou glad nie verband met swak higiëne nie. Inteendeel, hulle verkies skoon hare. Hulle kan nie spring nie, en word slegs oorgedra deur fisieke kontak.”

Behandel dit

Carica sê klere en beddegoed moet in baie warm water gewas word en dan in die son uitgehang word of in die tuimeldroër gesit word. Die addisionele hitte help verder om die luise dood te maak. “Almal en alles in die huis moet behandel word. Die matrasse en die matte kan ook met ’n geregistreerde gifdoder vir luise gespuit word.”

Daar is verskeie produkte wat kan help met luise, en Carike sê deesdae word daar ál meer wegbeweeg van gifstowwe, en eerder gesteun op natuurlike produkte soos teeboomolie, want dit is onskadelik as dit deur die vel opgeneem word.

“Permethrin is baie gewild omdat sy toksisiteit baie laag is; absorpsie deur die vel is ook laag. Die 1-persent-oplossing kan vir kinders bo 6 maande gebruik word,” sê sy. “Produkte wat teeboomolie bevat, is ook doeltreffend. Vir voorkoming kan dit by sjampoe gevoeg word – die luise hou nie van die reuk nie. Jy kan ook natuurlike produkte gebruik wat klapper-, anys- en ylang-ylang-olies bevat vir voorkoming en behandeling. Maak seker jy was borsels en kamme met baie warm water ná gebruik, anders kan besmetting weer plaasvind.”

Raadpleeg onmiddellik ’n dokter as die besmetting van so ’n aard is dat die limfkliere in die nek geswel is, hoofpyn of koors voorkom.

Boererate

“Daar is baie boererate, en elkeen het sy eie manier om van luise ontslae te raak. Die algemeenste boererate is mengsels van asyn (wit of bruin) met klapper- of olyfolie. Die hare kan eers met asyn gespoel word voor dit met luissjampoe behandel word; dit maak die doppies van die nete sag. Party mense smeer mayonnaise aan en bedek dan die hare met plastiek. Dit versmoor die luise,” sê Carike.

Nog ’n natuurlike manier om dit te beheer is om ongeveer 3 weke elke derde dag jou hare met ’n luiskam (enige kam wat baie fyn tande het) deur te borsel. “Gebruik gewone sjampoe en opknapper en kam dan die hare van die wortels tot by die punte met stadige, egalige hale.”

Carike sê daar word ook gevind dat mense wat gereeld hare kleur en warm tange gebruik, minder geneig is om luise te kry. “Moet net nie hare stilleer of aan hitte blootstel net nadat dit met luissjampoe behandel is nie, want dit kan die werking van die sjampoe teenwerk.”

Wees versigting

Volg hierdie maatreëls wanneer jy jou eie of kinders se hare teen kopluise behandel, sê Carike.

-          Enige aërosols moet altyd in ’n goedgeventileerde area gebruik word.

-          Asmalyers moet die inasem van aërosols vermy.

-          Die aërosols is baie vlambaar; moet dus glad nie rook terwyl dit gebruik word nie en bly weg van hittebronne, soos ’n kampvuur.

-          Hou die luissjampoe weg van jou oë, stukkende vel en jou mond.

-          Volg aanwysings van enige produk noukeurig, al is dit natuurlik.

-          Maak seker die produk wat jy gebruik, is veilig vir jou kind se ouderdom. Jong kinders is byvoorbeeld sensitiewer vir party gifmiddels.

-          As jy ’n gifmiddel gebruik, moenie jou kind se hare was terwyl hulle in die bad sit nie, want die gif kan ook deur die vel opgeneem word. Hou hul kop oor die wasbak of bad en spoel met ’n beker af.

Voorkom dat dit versprei

Carica sê jy kan die volgende maatreëls volg om te keer dat jy of jou kinders luise kry.

-          Moenie dat kinders hoede, serpe, borsels, kussings en sagte speelgoed met maats by die skool deel as jy dink daar is luise in die omtrek nie.

-          Stel onmiddellik die skool of dagsorg in kennis as jy luise op jou kind se kop kry. As jy meer as een kind het en hulle is in verskillende skole, laat albei skole weet.

-          Hou jou kind by die huis tot die luise heeltemal opgeklaar is.

- Dalena Theron