Dis Afrikaanse kunstenaars soos jy hulle nog nooit tevore gesien het nie – lekker laf uitgebeeld in keramiekkuns.

Jy herken dadelik vir Dozi aan sy wilde hare en Theuns Jordaan aan sy kaal voete. En die skepper se naam onderaan die prentjies lui ook ’n klokkie – Koos Kombuis.

Vir baie van die Kaapse sanger en skrywer se aanhangers is dit ’n verrassing dat hy ook ’n talent vir teken het. Maar Koos se lynsketse versier al jare lank die keramiekwerk van ’n stellenbosse kunstenaar en dis veral sy uitbeeldings van sy medesangers in Afrikaans wat groot aftrek kry.

Wie sal nou nie graag hul Klippies-en-Coke-glas op ’n keramiekteeltjie met ’n oulike prentjie van Kurt Darren wil neersit nie? Of ’n lawwe keramiekmagneet van Bobby van Jaarsveld teen jou yskas wil hê nie?

Koos glimlag ewe verleë oor die komplimente vir sy sketswerk. Hy sal dit nou nie juis ’n talent noem nie, sê hy. “Ek krap maar nog altyd so.” Soms kry hy ’n bevlieging om iets te teken en ander kere peuter hy maar so rond tot ’n idee vorm aanneem.

Dit kos kopkrap om te onthou wanneer presies hy en sy ou vriend Anton Naudé die eerste keer op die idee gekom het om sy sketse in keramiek te verewig.

“Het ons voor of ná Voëlvry ontmoet?” vra Koos vir Anton.

Beslis voor die Voëlvrytoer, praat Anton oor die dae van hul wilde jeug. “Ja, dit was oor ’n bottomless koppie koffie in die Spur. Net toe bottomless koffie mode geraak het daar in die middel 80’s.”

Teken is sy derde liefde ná skryf en musiek maak, sê Koos. Vandat hy kan onthou, het hy prentjies geteken van dinge wat hom fassineer. Hy het op skool kuns as vak geneem en op universiteit ’n jaar lank kunsgeskiedenis geneem.

Anton het destyds vir Koos vertel dat hy ’n beker  wou maak om Halley se komeet, wat in 1986 besonder naby die aarde verby is, te gedenk.

“Ek wou die woorde ‘Ek het Halley se komeet gesien’ op die koppie sit, maar toe sê Koos nee, ek moet eerder sê: ‘Ek het nie Halley se komeet gesien nie.’ Dit was toe dat ek besef ek het met genialiteit te doen,” trek Anton sy pel se been.

“Dit was net ’n kwessie van tyd voor Koos Kombuis se goed op kombuisware sou pryk.”

Anton het van Koos se sketse uit ’n boek gekopieer om vir sy vriend te wys hoe oulik dit op keramiek sal lyk. Dis ’n hele storie om die skets eers oor te dra op iets wat soos ’n transparant lyk en dit dan op die klei in te brand.

Hy hou van dié tegniek omdat dit permanenter is as net ’n skets op papier of verf op ’n doek, sê Anton.

“As jy die prent eers op klei ingebrand het, hou dit vir altyd. Dis nie soos ’n afdruk wat kan rondfladder nie; dis solieder.”

Anton doen ook graag mosaïekwerk en in sy ateljee op Stellenbosch maak hy groot kleipotte wat hy met teeltjies versier.

Anton laat sy kunswerke baie classy lyk, sê Koos ingenome.

Self is hy nie bedrewe genoeg met sy hande om Anton met sy klei-skeppings te help nie. “Ek het op ’n keer probeer, maar ek kon nie een pot maak staan nie. Op skool het ek nul gekry vir houtwerk practise en 100 persent vir die tekeninge. Ek kan glad nie driedimensionele goed kleinkry nie. Ek los dit maar vir ouens soos Anton en fokus op teken; dis vir my baie lekkerder.”

Daar was al ’n paar suksesvolle uitstallings van Koos en Anton se keramiekskeppings en hulle wil die reeks

uitbrei na gebruiksartikels.

Die Kombuis-konnotasie in Koos se naam leen hom tot baie meer artikels, sê Anton. Hy het al borde met Koos se prentjies gemaak en ’n wasbak waarin Koos se woorde afspiraal na die prop.

Die magnete wat jy op jou yskas kan plak, het Anton “ys-Koos-magnete” gedoop. Die wynverkoeler wat Anton gemaak het, beklee ’n baie spesiale plek in Koos se huis. Miskien sal hulle ook nog ’n toiletbak kan versier met Koos se prente, lag Anton. ’n Ander naam vir ’n kamerpot is dan juis ’n Koos . . .

Om ’N karikatuur van iemand te maak is nie kinderspeletjies nie, sê Koos. “Die moeilikste is om dit so te teken dat die mens herkenbaar is. Iets wat baie maklik lyk, kan dalk ’n dag vat. Die lyntekening wat ek van myself gemaak het vir my nuwe CD, Koos Kombuis, het seker 50 probeerslae gevat voor ek tevrede was. Dis ’n baie eenvoudige tekening; dit lyk asof ek dit in 10 sekondes gedoen het, maar moenie glo nie.”

Lees die volledige artikel in die lente-uitgawe van Tempo.