Iemand het nog skaars die t-woord gespreek toe raak die aandenkingvervaardigers skoon van hul trollie af. Voor jy Westminster-abdy kon sê, was borde met die stralende paartjie se gesig daarop, bekers met familiewapens en William-en-Kate-afdroogdoeke kant en klaar gemaak en versprei. En dit was in 2008 al . . .

Toe die maande voortsleep sonder dat ’n aankondiging gedoen word, het die vervaardigers maar ewe weer hul goedjies weggepak.

Maar toe William Kate Middleton eindelik regtig vra om te trou het die mense wat graag ponde tel, weer kiertsregop gaan sit.

Selfs Kate se ouers se posbesteldiens, Party Pieces, kry skielik meer aftrek sedert die verlowing aangekondig is.

Maar omdat hulle al voorheen met hul middelklasmaniere glo die koninklikes se wenkbroue laat lig het, ontwerp Carole en Mike Middleton nou beslis nie nuwe produkte met hul dogter en toekomstige skoonseun se gesig daarop nie!

Hulle het wel met groot sukses met ’n nuwe reeks ‘‘tradisionele’’ versierings, soos ’n Union Jack-vlagversiering, vorendag gekom. Dis vir mense wat koninklike troupartytjies beplan, sê hulle.

Intussen kreun die winkelrakke onder aandenkings, waarvan die meeste pas uit China in Engeland aangekom het. Kate het skaars gespog met haar blou saffier-en-diamantring wat voorheen aan prinses Diana behoort het, of namaaksels word in dié groot Asiatiese land gemaak.

Die ringe, wat so R11 tot iets minder as R90 kos, is ’n treffer in China, waar meisies mekaar vertrap om hulle op te raap.

In Chinese fabrieke word ook ander handelsware in groot maat vervaardig, onder meer bekers, borde en sleutelringe met die paartjie se afbeelding daarop. Baie van die fabrieke se werknemers het nog nooit van William en Kate gehoor voor hulle hul bestellings ontvang het nie, maar dit demp nie hul geesdrif nie.

‘‘Ek het gehoor dit is alles vir ’n prins en prinses,’’ sê Liu Ying, ’n werker. ‘‘Ek is nie seker van watter land hulle kom nie, maar hulle lyk pragtig. Ek hoop hulle sal saam oud word.’’

Lees meer hieroor in die Huisgenoot, 10 Februarie 2011. Kry die ikoonprogram en kiek die ikoon op die ooreenkomstige blad in die Huisgenoot met jou foon om te kyk wat die ontwerper van prinses Diana se rok oor die maak daarvan vertel.