Koolhidrate doen meer as net jou gewig beïnvloed; dit raak ook die manier waarop jy dink.

Dr Sherry Ross, verloskundige en ginekoloog by die Providence Saint John-gesondheidsentrum in Santa Monica, het aan shape.com verduidelik die soort uitwerking wat dit het, hang af van die soort koolhidrate wat jy inneem.

In ’n studie wat onlangs in die Quarterly Review of Biology gepubliseer is, het getoon daar is ’n verband tussen die van koolhidrate en intelligensie. Navorsers het alle soorte data gefynkam – van geneties tot argeologies – om uit te vind watter rol die inname van koolhidrate die afgelope miljoen jaar by die ontwikkeling van die brein gespeel het.

Ons voorgeslagte het weggelê aan graansoorte, aartappels en ander gesonde styselsoorte, en, volgens dr. Karen Hardy, ’n navorser aan ’n universiteit in Barcelona en hoofskrywer van die studie, het hierdie gesonde koolhidrate gehelp met die ontwikkeling van die mens se groot brein.

“Stysel, oftewel koolhidrate, is die hoofbron van energie vir die brein en die liggaam,” het Karen bygevoeg. “Dit moet by die dieet ingesluit word sodat die brein en die liggaam op hul beste kan werk.”

Hawer en okkerneute is voorbeelde van kossoorte wat die brein versterk. Baie mense skakel miskien koolhidrate uit as hulle ’n dieet volg, maar Sherry stem nie hiermee saam nie.

“Die brein het ongetwyfeld koolhidrate nodig om te funksioneer,” het sy beklemtoon. “As jou dieet nie genoeg koolhidrate insluit nie, kan enige moontlike probleme met die basiese werking van jou brein erger word.”

Die geheim is om die beter keuses te eet, aangesien die verfynde variasies, soos gemorskos, aan depressie gekoppel word. ’n Studie wat in die American Journal of Clinical Nutrition gepubliseer is, toon vroue wat weglê aan heelgraanprodukte, groente en dieetvesel – almal propvol onverwerkte, gesonde koolhidrate – het ’n baie positiewer ingesteldheid as dié wat verfynde koolhidrate verorber het.

Koolhidraatliefhebbers hoef dus glad nie koolhidrate af te sweer nie; let net op die soort geregte wat jy eet. Benut die voordele van koolhidrate en hou jou brein helderder, eerder as om dooierig en droewig te voel.

© Cover Media