Die hertogin van Cambridge se ooievaarstee gaan waarskynlik by Kensington-paleis gehou word, waar prinses Diana tot haar dood in 1997 gewoon het.

Die geleentheid word glo vir Sondag 30 Junie beplan. Die datum het spesiale betekenis vir prins William, want dis die dag voor Diana se verjaardag en William wil sy ma se nagedagtenis deel van sy baba se lewe maak.

’n Bron het aan Now Magazine vertel: “Wills is baie opgewonde hieroor. Hy voel sy ma sal in die gees saam met hulle wees terwyl hulle op die baba se koms wag.”

William (30) en Catherine (31) het aan gaste gesê hulle soek nie uitspattige geskenke nie. Die bron voeg by: “Hulle wil net die dag geniet en ontspan voor die groot dag.”

Die paartjie wil ook later die baba neem om graaf Charles Spencer (49), Diana se broer, asook ander lede van die Spencer-familie by hul huis op die Althorp-landgoed te ontmoet. Hulle wil ook Diana se graf besoek. Die bron sê: “Dit gaan ’n ongelooflik emosionele ervaring vir hulle wees.”

Catherine se suster, Pippa Middleton (29), het die ooievaarstee help reël en wou dit by hul ouerhuis in Berkshire hou, maar is gelukkig om by Kensington-paleis gasvrou te speel. Daar bestaan egter ’n moontlikheid dat daar by die Middleton-huis ook ’n ooievaarstee gehou kan word. Die baba word na verwagting middel Julie gebore.