Kate Middleton, oftewel Catherine, die hertogin van Cambridge, vier vandag haar 30ste verjaardag.

Volgens die Daily News beplan Kate egter nie ‘n groot viering nie en sal dit ‘n private en klein geleentheid wees.

Op die laaste dag van haar twintigs het Kate vir prins William na die primière van Steven Spielberg se jongste fliek War Horse in Londen vergesel.

Menigte kritici en kenners is dit eens dat Kate ‘n ware prinses is en haar goed kwyt van haar koninklike take. Selfs haar mode-keuses het almal aan die gons.

“Ek het onlangs met ‘n boetiek-eienaar gepraat en sy vertel wanneer Kate ‘n sekere uitrusting dra, dit onmiddellik uitverkoop. Hulle het ‘n sekere rok vier keer meer verkoop as wat hulle sou omdat Kate dit gedra het,” het die mode-kenner Karen Kay aan Sky News gesê.

Kate se koninklike paadjie loop ook nie soos haar vroulike voorgangers nie omdat sy op 30 nog nie ‘n ma is nie.

Associated Press berig baie van die senior vroue in die koninklike familie was alreeds in hul twintigs ma’s.

Toe koningin Elizabeth 30 was, was twee van haar vier kinders reeds gebore. Haar dogter, prinses Anne, is op 23 getroud en haar oudste kind, Peter Phillips, is vier jaar later gebore.

Diana is op 20 getroud en haar eersteling, William, is kort voor haar 21ste verjaardag gebore.