’n Fotograaf het ’n voorstelling afgeneem van wat sou gebeur as die koninklikes saam na ’n hartseer rolprent kyk.

Alison Jackson is bekend vir haar fotografie van mense wat op ’n haar na soos bekendes lyk. Sy het beroepsdubbelgangers gebruik vir die uitbeelding van die 87-jarige koningin, hertogin Catherine en haar suster, Pippa Middleton, en prins Charles se vrou, Camilla, die hertogin van Cornwallis. In die toneel kyk hulle, geklee in hul slaapklere, na ’n romantiese fliek.

Dié reklameflits is deel van Kleenex-sneesdoekies se veldtog Where’s Your Kleenex When You Need It. Daarin vee Kate se dubbelganger haar trane af met sneesdoekies, terwyl die persoon wat die koningin uitbeeld, haar troos.

Alison vertel: “Wanneer dit koud is, is niks lekkerder as om jou vriende vir ’n gesellige aandjie tuis oor te nooi nie. Jy kan jou voorstel hoe die dames van Buckingham-paleis, snoesig in hul slaapklere en met bakke vol springmielies, meegevoer word deur die romanse van ’n hartseer rolprent. Daardie soort rolprente laat ons altyd huil; daarom is dit raadsaam om ’n Kleenex-sneesdoekie byderhand te hou vir die trane.”