Ken Wharfe, wat William kleintyd opgepas het, het die egpaar gewaarsku dis nie ’n goeie idee om die eerste ses weke ná hul eersteling se geboorte by Kate se ouers in Berkshire te gaan bly nie.

Ken het aan die tydskrif Look gesê: “Die baba kan in gevaar wees. As ’n mens kyk na wat wêreldwyd in die politiek aangaan en hoe kwesbaar die koningsgesin is, weet jy hulle het baie beskerming nodig. In ’n wêreld waarin so baie terreurdade plaasvind, is daar ’n groot kans dat hierdie baba ontvoer kan word.

“Die wêreld is baie gevaarliker as 20 jaar gelede, toe ons Harry en William opgepas het. Selfs toe was daar ’n groot span wie se enigste verantwoordelikheid was om na die kinders om te sien. Nou gaan daar om elke hoek en draai mense wees wat sit en wag dat Kate en William met hul baba verbykom.”

Ken hou vol Carole en Michael Middleton, Kate se ouers, se woning van meer as R72 miljoen is nie veilig genoeg nie; hy glo dit sal nog ’n fortuin kos om die plek veilig genoeg te maak vir die derde troonopvolger.

Hy het gesê: “Hul huis is wel beveilig, maar daar is geen manier dat hulle dit veilig genoeg kan maak in die kort tydjie dat Kate-hulle daar gaan wees nie. Hulle sal hulself met polisie moet omring en die koste kan miljoene beloop.”