Babaprodukte en aandenkings van William en Kate se baba kan tot R3,8 biljoen inbring. Die eersteling van die hertog en hertogin van Cambridge sal na verwagting vandeesmaand gebore word en maatskappye is oorgehaal om dié geleentheid tot die maksimum te benut – aandenkings sal van bekers en borde tot T-hemde en donuts insluit. Boonop gaan ander ouers skarrel om dieselfde babaprodukte as William en Kate te gebruik. Die kleinhandelspesialis Bryan Roberts het aan die Daily Star gesê: “Daar sal beslis ’n toename in verkope wees van die produkte wat Kate en William gebruik.” Buiten die gewone klere en breekgoed met baba C as inspirasie, beplan die donutmaatskappy Krispy Kreme ook om versnaperings te maak met blou of pienk versiering, afhangende van die baba se geslag. ’n Woordvoerder van die St. James-paleis het intussen gesê: “Die geboorte van die hertog en hertogin se baba moet ’n vreugdevolle okkasie wees. Ons erken daar is ’n lang en gelukkige geskiedenis van mense wat gedenkwaardighede skep om koninklike geleenthede te vier.” Toe William gebore is, het aandenkings soos soetkoek verkoop. Kenners reken dit sal weer die geval wees wanneer die koninklike egpaar se eersteling in die wêreld verwelkom word.