Prins William en hertogin Catherine het hul pasgebore babaseun se naam bekendgemaak: George Alexander Louis.

Die egpaar het hul seun se naam gisteraand bekendgemaak, enkele ure nadat hulle vertrek het na Catherine se ouers, Carole en Michael Middleton, se huis in Bucklebury, Berkshire.

Kensington-paleis het die nuus in ’n kort verklaring bevestig: “Die hertog en hertogin van Cambridge is verheug om aan te kondig hul seun heet George Alexander Louis. Die baba sal bekendstaan as sy koninklike hoogheid prins George van Cambridge.”

’n Bron na aan die egpaar het aan die webtuiste MailOnline gesê die tradisionele name is nie simbolies nie; William en Catherine hou net baie daarvan.