Die Britse koningsgesin het glo ’n deeglike plan vir die geboorte van die hertog en hertogin van Cambridge se eersteling.

Prins William en die hertogin Catherine se baba word vandeesmaand verwag en personeel by Buckinghampaleis staan gereed. “Die (personeel by die paleis) staan elke dag en nag Julie reg hiervoor. Daar is niks meer om te beplan of om op voor te berei nie.”

Daar is ’n streng plan in werking sodat alles seepglad verloop vandat Catherine haar eerste sametrekkings kry. Jamie Lowther-Pinkerton, haar privaat sekretaris, sal haar dokter, Marcus Setchell, op ’n selfoon inlig wat deur die paleis verskaf is. “Dit het ’n gekodeerde sein; daarom kan niemand dit onderskep nie.”

Die hertogin sal na die sy-ingang van die St. Mary-hospitaal in Paddington gebring word om die media te vermy voor sy na ’n suite op die vierde vloer van die Lindo-vleuel gebring sal word. Die vertrek is begin vandeesmaand skoongemaak en toegemaak. Van toe af monitor veiligheidspersoneel dit daagliks.

Brittanje se regerende monarg, koningin Elizabeth II, raak glo nou gretig vir die kleinding se koms. Toe sy onlangs gevra is of sy ’n seun of dogtertjie sou verkies, het sy laat hoor: “Ek dink nie ek gee om nie, maar ek wil graag hê dit moet sy opwagting maak omdat ek binnekort met vakansie gaan.”