Hy is gekry waar hy hom aan ’n boom opgehang het naby sy huis in Orchards in Akasia, noord van Pretoria.

Nico was bekend vir sy rol as Pieter Groenewald in die TV-reeks Konings. Hy het ook in die reekse Meester, Dot & Kie en Die Glaskasteel gespeel.

Volgens sy lewensmaat van 13 jaar, Riana Jacobsz, was daar niks fout met Nico voor hy op sy fiets geklim het nie.

“Hy het vir my gewaai en gery soos hy graag gedoen het om oefening te kry of gou iets by die winkel te gaan koop. Ek het onraad vermoed toe hy om seweuur steeds nie tuis was nie en hom as vermis by die polisie gaan aanmeld,” het Riana gesê.

Hy het ’n waterbottel en klein rugsak by hom gehad, maar sy identiteitsdokument en rybewys tuis gelaat.

Die polisie het Riana toe laat weet iemand wat met sy honde gaan stap het, het op Nico se lyk afgekom.

Riana is geweldig geskok en het dit glad nie verwag nie. “Alles is nog baie deurmekaar,” het sy gesê.

Nico het aan depressie gely en is vroeër medies ongeskik verklaar. Riana was ’n onderwyseres, maar is ook medies ongeskik verklaar, weens ’n breingewas.

Hul geldsake het Nico glo baie gekwel.