Die monarg het haar kleinseun prins William en sy vrou, die hertogin Catherine – ouers van die ses maande oue prins George – gevra om hul geliefde hond, Lupo, by haar ouerhuis te los in plaas van om aan te sluit by die feestelikehede by haar Sandringham-landgoed.

“Die koningin het dit duidelik gemaak Lupo is nie op die gastelys nie. Die hertogin is versot op die hond en was hartseer dat hy nie kom saamgaan nie. Hy moes by haar ouerhuis in Berkshire agterbly,” vertel ’n bron.

Die koningin het glo die besluit geneem om die vrede te bewaar, omdat nuwe honde al in die verlede probleme veroorsaak het wanneer hulle Sandringham besoek. Haar corgi’s het middel verlede jaar prinses Beatrice se terriër Max aangeval en die hond het amper ’n oor verloor. In 2003 moes een van die koningin se geliefde honde van kant gemaak word nadat haar dogter, prinses Anne, se bulterriër hom aangeval het.

Dr. Roger Mugford, die dierekenner by wie die koningin in die verlede om raad aangeklop het, dink dis beter vir Lupo om tuis te bly. “Cockerspanjoele is van nature sosiale diere en kom goed met ander honde oor die weg, maar dis nie altyd die geval met die koningin se corgi’s nie,” het hy aan die Daily Telegraph gesê.

“Die beroering tydens Kersfees – die groot hoeveelheid mense, die onbekende gesigte en al die afleidings – kan hulle onvoorspelbaar maak. As nog ’n hond hul gebied betree met alles wat aangaan, gaan hulle dit nie noodwendig verwelkom nie.”