As jy sowat R18 000 het wat rondlê en al 66 jaar lank wag om ’n happie van koningin Elizabeth II se troukoek te kry, is daar goeie nuus: ’n Stukkie daarvan kan binnekort joune wees.

’n Klein sny van ’n massiewe 2,75 m hoë vrugtekoek, wat in 1947 gebak is toe die voormalige prinses Elizabeth (nou 87) met Philip Mountbatten (nou 92) getroud is, het dekades later in 2011 opgeduik en word op 5 September vanjaar opgeveil, berig dailymail.co.uk.

Wat die koek vir Suid-Afrikaners soveel merkwaardiger maak, is die bestanddele: Rum en brandewyn wat in die vierlaagkoek gebruik is, is spesiaal in die 40’s uit Suid-Afrika ingevoer.

Die meeste van die sowat 2 000 gaste wat die troue in 1947 bygewoon het, het ’n stukkie van die koek in ’n 9 x 19 cm-boksie huis toe geneem. Een van dié gaste was een van die koninklike egpaar se wagte, CH Spackman. Ná sy dood het hy die koek in die kissie geskenk aan die Princess Alice-tehuis in Surrey, Engeland, waar dit eers in 2011 in ’n ou kabinet ontdek is.

Dit is kort daarna vir sowat R16 500 verkoop, maar die eienaar het besluit dis nou die regte tyd om dit ’n nuwe tuiste te gee. Hy wil net sowat R18 000 daarvoor hê.

“Dit is ietwat vreemd, maar die veiling gaan iemand die geleentheid gee om ’n stukkie geskiedenis huis toe te neem,” sê Charlotte George, ’n verteenwoordiger by Christie’s, wat die stukkie koek in Londen gaan opveil.

“Die rum en brandewyn is waarskynlik die rede hoekom die koek nog in so ’n goeie toestand is; dis selfs nog in een stuk.

“Ek sal wel nie voorstel dat enigiemand dit eet nie, maar dis ’n fantastiese versamelstuk.”

?  CHRISTIAAN BOONZAIER