Die koningin (87) gaan glo tussen 2014 en 2015 ’n salaris van R606,4 miljoen kry. Daarmee moet sy huishoudelike uitgawes betaal en amptelike verpligtinge nakom. Sy het na bewering net sowat £1 miljoen (sowat R16 miljoen) oor, wat haar in ’n moeilike situasie sal plaas as onverwagte uitgawes opduik.

Volgens haar nuwe amptelike syfers sal haar koninklike hoogheid oor twee jaar ’n salarisverhoging van 22 persent ontvang. Dit beteken sy sal byna R96 miljoen meer kry as die R496 miljoen wat sy tussen verlede jaar en vanjaar ontvang het.

Die syfers is bekendgemaak deur die Nasionale Ouditkantoor, wat vir die eerste keer die koningin se begroting in die fynste besonderhede kon ontleed. Die verslag toon ook waar sy uitgawes besnoei het.

Die koningin het besnoei op uitgawes vir koninklike reise en verpligtinge, sowel as vir die huishouding van Buckingham- en Windsor-paleis.

Die eenmalige uitbetaling wat die koningin by die Britse regering kry, die Sovereign Grant, is belastingvry. Hoewel haar personeel se salarisse gevries is, het sy steeds verlede jaar R312 miljoen in salarisse aan haar 436 personeellede betaal.