Die Britse monarg was glo kwaad toe beamptes, wat in 2005 in haar huis gestasioneer was in die aanloop tot prins Charles se troue met Camilla, weglê aan southappies wat vir haar in die paleis geplaas is. Sy kry glo dikwels lus vir grondboontjies en ander peuselhappies.

Dié onthulling kom in die voortslepende meeluistersaak teen die gewese redakteur van koninklike sake van News of the World, Clive Goodman, wat in ’n e-pos aan sy redakteur, Andy Coulson, van die koningin se woede hieroor vertel het.

“Die koningin is woedend omdat die polisie bakkies neute en eetgoed geëet het wat vir haar bedoel was. Sy is lief vir southappies en die personeel los kasjoeneute, Bombay Mix, amandels, ens. in bakkies vir haar.”

Die koningin (87) het glo selfs die grondboontjies in die bakkies gemeet sodat sy kon weet as iemand daarvan gevat het. Volgens die e-pos het sy “die bakkies begin merk om te kyk wanneer dit minder word. Die polisie het egter almal opgeëet. Daar is ’n kennisgewing in die paleis uitgedeel waarin die polisie versoek is om hul hande tuis te hou.”