Koningin Elizabeth II hou van Special K-ontbytkos.

Die 87-jarige monarg geniet ’n heerlike ontbyt van dié gewilde ontbytkos met vars vrugte uit haar tuin of makadamianeute, wat sy in ’n Tupperware-houer bêre en bo-oor sprinkel, vertel die gewese sjef van die koninklike gesin Darren McGrady.

Dié koskenner, wat 15 jaar lank tot 1997 vir die koningin sowel as byvoorbeeld wyle prinses Diana gewerk het, het ook aan The Telegraph vertel haar majesteit hou van witvis of gebraaide hoender met groente stiptelik om 13:00. Aandete om 20:00 was gewoonlik wildsvleis of salm.

Sy het ook aangedring op die tradisionele middagtee elke dag met skons, wat “soms opgekrummel en vir die corgi’s gevoer is”, toebroodjies en soetgoed.

Darren het dit verklap nadat die koninklike gesin ’n advertensie geplaas het vir ’n ondersjef in Buckinghampaleis teen ’n salaris van R320 000 per jaar. Hy of sy sal werk onder die hoofkok, Mark Flanagan.

Volgens hom is dit allermins maklik. “Ek is verbaas dat hulle dit enigsins adverteer. Hulle bevorder gewoonlik iemand wat reeds daar werk, want jy moet die familieresepte leer,” sê hy.

“Hoewel jy kook vir 300 personeellede, koninklikes en presidente, kook jy ook vir ’n gesin, vir twee pensioentrekkers met spesifieke voor- en afkeure. Jy sal byvoorbeeld nooit knoffel, sterk uie of paprika in die koningin se geregte gebruik nie, want sy haat dit.”

Hy sê prins Andrew se gunsteling-eetgoed is mango’s en onthou hoe hy eenvoudige geregte vir die jong prins William en Harry gekook het. Hy onthou hulle as “twee seuns wat mal was oor burgers en pizza”.