Brittanje se koningin Elizabeth sal regeer tot sy “haar laaste asem uitblaas”.

Die koninklike se voormalige perssekretaris Dickie Arbiter dink nie die onlangse abdikasies in Europa sal haar aanspoor om van die troon afstand te doen sodat prins Charles koning kan word nie.

Die bewering kom nadat koning Juan Carlos van Spanje Maandag bekendgemaak het hy doen van die troon afstand, asook onlangse abdikasies in België en Nederland.

Tydens ’n onderhoud op ITV se Good Morning Britain het Dickie gesê: “Dit gaan nie hier gebeur nie; ons het standvastigheid. Die koningin sal nie abdikeer nie.

“Jy moet onthou dit is hoe sy in die eerste plek daar gekom het, deurdat haar oom aan die einde van 1936 geabdikeer het. Sy was nooit bestem om die pos te hê wat sy nou beklee nie. Sy werk volstoom.

“Sy is hier tot sy haar laaste asem uitblaas, soos sy al keer op keer gesê het.”

Dickie het toegegee die 89-jarige keur waarskynlik in die geheim die idee van abdikasie af. Hy het ook daarop gewys dat van die onlangse afstanddoenings uit omstredenheid gespruit het.

Die voormalige koninklike hulp het ook ooreenkomste afgemaak tussen die toekomstige monarge prins Felipe en prinses Letizia, ’n voormalige TV-aanbieder, en Brittanje se hertog en hertogin van Cambridge.

Hy het gesê: “Hulle is in hul 40’s; William en Kate is in hul 30’s. Felipe is ’n gegradueerde; hy het ook ’n agtergrond in ekonomie. Hy het militêre opleiding gehad, maar nie militêre diens verrig nie, terwyl William militêre diens verrig het. Sy vrou het ’n loopbaan in die uitsaaiwese gehad, maar Kate het glad nie ’n loopbaan gehad nie. Hulle is jonk, maar ek dink nie hulle deel ooreenkomste nie.”