Koningin Elizabeth II wil hê die koninklike baba moet binnekort gebore word, want sy vertrek volgende week met vakansie.

Die 87-jarige monarg reis volgende week na Balmoral in Skotland en het hertogin Catherine versoek om so gou moontlik aan haar en prins William se eerste kind die lewe te skenk, want sy wil nie weg wees met haar jaarlikse somervakansie wanneer die baba opdaag nie.

Toe ’n jong skoolmeisie vir die koningin vra of sy wil hê Catherine, wat as Kate Middleton bekend gestaan het voor sy in 2011 met William getroud is, moet ’n dogter of ’n seun kry, het sy geantwoord: “Ek dink nie ek gee om nie, maar ek sal baie graag wil hê die baba moet kom, want ek gaan binnekort met vakansie.”

Daar word vermoed die baba sal voor die einde van die week in die wêreld verwelkom word.

Die monarg het bygevoeg daar is “nog geen teken” daarvan dat Kate begin kraam nie.

Hertogin Catherine sal in ’n weelderige suite kraam met sjampanje, luukse toiletware en ’n leunstoel.

Die suite het satelliet-TV, Wi-Fi en ’n radio. ’n Vars ruiker blomme word elke dag daar afgelewer. Dit het ook verdonkergordyne om algehele privaatheid te waarborg.