Sy is ook die hoof van die Gemenebes van Nasies en beskermvrou van talle organisasies in Engeland. Dinsdag het Buckhingham-paleis aangekondig die koningin sal aan die einde van haar 90ste verjaardagjaar uittree as beskermvrou van 25 organisasies.
Ander lede van die koninklike gesin sal die dienste in haar plek verrig. Prins Charles sal haar as die beskermheer van die Holocaust-dag gedenktrust vervang.
Dié foto van die koningin en haar oudste seun, prins Charles (68), is uitgereik om die einde van haar 90ste verjaardagviering te bevestig.

Dit is deur die Britse fotograaf Nick Knight geneem.

“Ek wou ’n moderne portret skep wat warmte, menslikheid, kragdadigheid en tradisie uitbeeld,” het hy gesê.

Die foto is op 1 Mei 2015 by Windsor-kasteel geneem.

Die koningin is op 21 April 1926 in Londen as prinses Elizabeth Alexandra Mary gebore. Min sou ooit kon raai dat sy eendag die koningin van Groot-Brittanje sou word.

Tydens die Tweede Wêreldoorlog het die jong prinses nie net handjies gevou teruggesit nie; sy het op verskeie terreine betrokke geraak. Een daarvan was die aanbieding van ’n kinderprogram.

Boonop was sy net so vaardig wat meganika betref – sy het selfs as ’n motorwerktuigkundige diens gedoen.
Die monarg is ook bekend vir haar liefde vir diere en ry glo steeds perd, ten spyte van haar gevorderde ouderdom.

Bronne: yahoo.com. dailymail.com, biography.com, wikipedia.org, royal.uk, bbc.co.uk, skynews.co.uk