[caption id="attachment_174320" align="alignnone" width="600"]Foto: Getty Images Foto: Getty Images[/caption]

In haar boodskap sê die koningin die “hele nasie is geskok” oor die dood en beserings van soveel mense – volwassenes en kinders – wat die konsert in Manchester bygewoon het.

“Ek weet ek praat namens almal as ek my diepste simpatie uitspreek oor diegene wat deur hierdie aaklige voorval geraak is, en veral die families en vriende van diegene wat gesterf het of beseer is.

“Ek wil al die nooddienswerkers, wat met soveel professionaliteit en sorg reageer het, bedank, en my bewondering uitspreek oor die manier waarop die mense van Manchester met medemenslikheid en deernis op hierdie wrede daad reageer het.”

Die Islamitiese staat het Dinsdag verantwoordelikheid geneem vir die Manchester Arena-aanval.

Georgina Bethany Callander is die eerste slagoffer van die Manchester Arena-terreuraanval wie se naam bekend gemaak is.

Die 16-jarige tiener, wat twee jaar gelede dolgelukkig glimlag op ’n foto saam met die popster Ariana Grande, is dood nadat ’n selfmoordbom gisteraand by Ariana se konsert ontplof het, het die polisie bevestig.

[caption id="attachment_178535" align="alignnone" width="600"]Photo: Instagram Photo: Instagram[/caption]

’n Hegte pel van die tiener het aan die koerant Evening Standard gesê sy is met haar ma langs haar bed in die hospitaal dood.

Minstens 22 mense is dood en 59 beseer nadat ’n spykerbom in dié terreuraanval ontplof het.

Skrapnel wat op die toneel gevind is, het owerhede laat glo die ploftoestel het dalk spykers, moere en skroewe bevat.

Georgina se vriende het ná haar dood roerende boodskappe oor haar op Twitter gedeel.

“ ’n Pragtige meisie met die mooiste hart en siel. Ek sal jou altyd mis. Mag jy in ’n beter plek as hier rus. Ek is lief vir jou,” het een gelui.

Die Britse akteur Sean Maguire het ook eer aan wyle Georgina betoon. “Ek het hierdie meisie in April ontmoet. Sy is gisteraand in Manchester dood. Ek stuur liefde aan haar en al die families van slagoffers,” het hy getwiet.

Ariana het ná die skokkende aanval op Twitter gesê sy is “so, so jammer”. Sy het glo haar wêreldtoer opgeskort in solidariteit met die slagoffers en hul families.

Bronne: news.com.au, metro.co.uk, mirror.co.uk, dailymail.co.uk, Independant.co.uk.