Wat moet ’n monarg doen wanneer sy nie kan slaap nie? Wel, sy gaan wandel natuurlik in die paleis se tuin.

[caption id="attachment_153120" align="alignnone" width="600"]Koningin Elizabeth by die Paleis van Holyroodhouse in Edinburgh, Skotland, in Julie 2016. Foto: facebook.com/TheBritishMonarchy Koningin Elizabeth by die Paleis van Holyroodhouse in Edinburgh, Skotland, in Julie 2016. Foto: facebook.com/TheBritishMonarchy[/caption]

Brittanje se koningin Elizabeth II geniet dit blykbaar om omstreeks middernag op die pragtige terrein van Buckingham-paleis te wandel. Sy doen dit dikwels wanneer die slaap haar ontwyk, maar een van haar middernagtelike wandelings het haar byna haar lewe gekos.

Volgens ’n veiligheidswag by die paleis het hy hom amper doodgeskrik toe hy tydens een van sy skofte ’n skadufiguur tussen die struike sien skuil en hy amper op die oortreder skiet.

Die gewese wag het onlangs aan The Times vertel hoe hy in die donkerte uitgeroep het. Dankie tog hy het, want die stem wat geantwoord het, was Haar Majesteit s’n.

"Hy het ‘wie’s daar?’ geroep terwyl hy dog dis ’n betreder,” skryf James Tucker van The Times.

"Tot sy verbasing was dit die koningin. ‘Genade, U Majesteit, ek het u byna geskiet,’ het hy gestamel.”

Die 90-jarige monarg was blykbaar koel en kalm.

“Alles reg,” het sy na bewering geantwoord. “Ek sal jou volgende keer vooraf bel, dan hoef jy my nie te skiet nie.”

Die vreemde ontmoeting het glo ’n paar jaar gelede plaasgevind, berig The Mirror.

Die koningin, wat binnekort haar 91ste verjaardag en ook haar 65ste jaar op die troon vier, het die afgelope twee weke ’n ernstige verkoue gehad.

Haar Majesteit moes ’n klompie koninklike afsprake misloop, insluitend die jaarlikse kerkdienste op Kers- en Nuwejaarsdag op Sandringham.

Dit gaan glo beter met haar en sy sterk aan op dié landgoed in Norfolk.