Koningin Elizabeth II was glo briesend kwaad vir die hertogin van Cambridge omdat sy met prins George by haar ouers se huis gaan bly het.

Die koningin en Catherine het glo gebots oor Catherine se besluit om die pasgebore derde troonopvolger na haar ouers se huis te bring. Volgens tradisie moes sy hom na die paleis gebring het en nie na Carole en Michael Middleton se huis in Wes-Berskshire nie.

George Brown, ’n vriend van die Middleton-familie, sê glo in ’n uittreksel uit ’n nieamptelike biografie oor die hertogin: “Ek is nie seker dat die koningin heeltemal ten gunste was van die idee dat hulle almal in Bucklebury gaan bly het nie. Dit was beslis nie die norm nie, maar dis wat Kate wou hê en William het haar ondersteun en dit moontlik gemaak.”

Catherine se oom Gary Goldsmith het al gesê hoe bly hy was om te sien dat die mooi donkerkop en prins William (albei 31), hul nuwe pligte as ouers so goed hanteer. Gary is Carole se jonger broer.

Hy het gesê: “Hulle vaar briljant. Kate het haar voete plat op die aarde en William weet wat hy wil hê.

“Hulle sal absoluut perfek wees en is ’n ware paartjie wat dolverlief is.

“Hulle sal ongelooflik modern wees. Hulle sal oral saam wees.

“Ek dink nie hulle sal die verantwoordelikheid van hul babas op ander mense afskuif nie.”