Die monarg het gevra haar kleinseun prins William en sy vrou, Catherine, die ouers van die ses maande oue prins George, moet hul geliefde hond, Lupo, by haar ouerhuis los pleks dat hy aansluit by die feestelikhede op haar landgoed Sandringham.

“Die koningin het dit duidelik gemaak Lupo is nie op die gastelys nie. Die hertogin is versot op die hond en was hartseer dat hy nie kom saamgaan nie. Hy moes by haar ouerhuis in Berkshire agterbly,” vertel ’n bron.

Die koningin het glo die besluit geneem om die vrede te bewaar omdat nuwe honde al voorheen moeilikheid gemaak het wanneer hulle Sandringham besoek. Haar corgi’s het middel verlede jaar prinses Beatrice se terriër, Max, aangeval; die hond het amper ’n oor verloor. In 2003 moes een van die koningin se geliefde honde van kant gemaak word nadat haar dogter, prinses Anne, se bulterriër hom aangeval het.

Dr. Roger Mugford, die dierekenner by wie die koningin al raad gevra het, dink dis beter dat Lupo tuisbly. “Cockerspanjoele is van nature sosiale diere en kom goed met ander honde klaar, maar dis nie altyd die geval met die koningin se corgi’s nie,” het hy aan die Daily Telegraph gesê.

“Die beroering tydens Kersfees, die groot aantal mense, die onbekende gesigte en al die afleidings, kan hulle onvoorspelbaar maak. As nog ’n hond hul gebied betree te midde van al die opwinding, gaan hulle dit nie noodwendig verwelkom nie.”