Dis baie vreemd, meen ’n veteraan met 38 jaar se ervaring van forensiese ondersoeke.

Johan Wessels, mededirekteur van die departement van nagraadse forensiese ondersoeke aan die Universiteit van KwaZulu-Natal, het aan News24 gesê dit kan dalk wees omdat die verdagte na aan die gesin is.

“Al wat ek uit die verswyging kan aflei, is dat hulle (die polisie) dalk iemand in die gesin verdink,” het Johan gesê.

In ’n e-pos-antwoord op News24 se vrae oor waarom die name weerhou word en of enigiemand binnekort in hegtenis geneem kan word, was die polisiewoordvoerder André Traut net bereid om te sê: “Wanneer ons nog inligting oor die saak bekend kan maak, sal ons die media in ’n verklaring in kennis stel.”

Henri van Breda, die 20-jarige wat die aanval met net geringe beserings oorleef het, en sy suster, Marli (16), is al gesinslede wat die bylaanval oorleef het waarin hul pa, Martin (54), ma, Teresa (55), en broer, Rudi (22), dood is.

Marli is uit ’n rehabilitasiesentrum ontslaan en in die sorg van familievriende geplaas. Sy het ernstige koptrauma opgedoen.

Kritiek oor die polisie Johan sê dis vreemd dat die ondersoekbeamptes drie maande ná die moorde nog nie eens die slagoffers se name bekendgemaak het nie. Hy sê die polisie moet ten minste verduidelik waarom nie. Familielede het intussen wel hul identiteit bevestig. Die strafregkenner William Booth het die polisie se benadering in die ondersoek gekritiseer. Hy sê hulle moes die publiek teen dié tyd al ingelig het oor wat gebeur.

'Die publiek het ’n reg om ten minste basiese inligting te weet.'

“Die publiek het ’n reg om ten minste basiese inligting te weet oor waarom daar hierdie vertraging is,” sê William in ’n e-pos.

Terwyl hy meen die polisie is oorversigtig, sê hy dis raadsaam dat hulle nie “te vinnig” ’n verdagte in hegtenis neem nie.

’n Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. F.C. van Wyk, het die naweek aan News24 gesê die ondersoek vorder beduidend, maar dit kan nog nie nou al met die media gedeel word nie.

Marli se terugwaartse geheueverlies

Daar word vermoed die polisie wag dat Marli herstel sodat hulle ’n verklaring by haar kan afneem, maar die gesinswoordvoerder, Ben Rootman, het die naweek onthul die tiener het terugwaartse geheueverlies. Dit beteken sy kan niks van die aanval onthou nie.

Die psigiater en Health24-kenner prof. Michael Simpson, bekend as CyberShrink, sê Marli se geheue kan terugkeer.

“Baie kundige psigoterapie by ’n ervare psigoterapeut kan iemand sulke herinneringe help terugkry, maar dit is nie altyd suksesvol nie,” het Michael gesê.

As Marli se geheue van die tragiese voorval nie terugkeer nie, kan die staat se saak selfs meer op forensiese bewyse steun.

As die polisie ’n moordondersoek behoorlik uitgevoer het, is die misdaadtoneel hopelik korrek bewaar en beoordeel.

“Die misdaadtoneel opsig self is die belangrikste (plek) en daar was al vele verbroude moordondersoeke in Suid-Afrika (want) baie van die speurders is totaal onervare,” het Johan gesê.

- Lauren Hess, News24