Foto’s van ’n tierwelpie wat aan ’n leiband in sy eienaar se agterplaas aangehou word, is op Facebook versprei en daar is gevra dat die publiek die DBV versoek om die dier te verwyder.

Die welpie word as troeteldier by ’n huis in Boksburg aangehou.

Volgens Netwerk24 is die man glo met die dood gedreig nadat dit bekend geword het dat hy ’n tier as troeteldier aanhou.

Inwoners meen hul veiligheid word bedreig omdat Jean Anderson ’n tier, wat tot 320?kg kan wees, in ’n woonbuurt aanhou.

Die tier se eienaar is egter van mening dat inwoners verniet bekommerd is omdat hy besig is om ’n hok in sy erf te bou waarin die tier gaan bly. Die hok sal ongeveer 4 m hoog wees.

Ainsley Hay, bestuurder van wildbeskerming by die DBV, sê hul hande is afgekap.

“Die probleem is dit is nie onwettig om ’n inheemse of eksotiese dier as troeteldier aan te hou nie,” het Ainsley gesê en bygevoeg die wet sal moet verander word.

“Ons is gemoeid met die veiligheid van die dier, sowel as dié van ander mense. Die dier kan ’n uiters groot gevaar inhou vir die publiek.”

Volgens hom het hulle die Gautengse Natuurbewaringsgroep genader, maar dié het hulle ingelig niks kan omtrent die tierwelpie gedoen word nie.

’n Beampte van die Wildbeskermingsvereniging het gesê mense dink dis “koel” om ’n wilde dier groot te maak. Hulle besin egter nooit oor wat die implikasies sal wees wanneer die wilde dier volwassenheid bereik nie, het sy bygevoeg.

Bronne: Netwerk24, News24