Die voordele van ’n bietjie ligte oefening tydens jou swangerskap is groot; dit kan jou selfs die hupstoot gee wat jy nodig het.

Hoekom het jy en baba ’n bietjie oefening nodig?

Die voordele wat oefening tydens swangerskap bied, wissel van die verligting van rugpyn en hardlywigheid tot rustiger slaap. Oefening help ook gewrigslytasie voorkom, want jou gewrigte verslap tydens swangerskap. Jy hou ook jou gewig in toom en maak dit makliker om ná die geboorte die oortollige vetjies af te skud.

Oefen saam met jou kinders

Hier is ’n paar kreatiewe idees sodat jy oefening en tyd saam met jou kinders kan kombineer.

1.      Danspartytjies

Koop ’n dans- of aërobiese oefeninge-DVD (niks te straf nie) en speel dit in jou woonkamer. Jy kan ’n bietjie oefening inkry terwyl jou kinders in die vertrek kan baljaar. Bly maar weg van enigiets wat vereis dat jy moet spring of draai (of swaartekrag op enige manier uitdaag!).

2.      Stap

Al wat jy regtig nodig het, is ’n goeie stootwaentjie vir jou kind en ’n paar gemaklike stapskoene. Die vars lug gaan jou kop skoonmaak en die endorfiene wat vrygestel word, gaan jou opkikker. Die voordeel is dat stap vir die meeste swanger vroue veilig is; jy kan dit deur jou hele swangerskap doen.

3.      Speeltyd

Kleuters en voorskoolse kinders is in die algemeen baie aktief. As jy dus van die rusbank wil wegkom, kan jy in jou kleintjie se voorbeeld navolg. As jou baba nog kruip, kan jy probeer om minstens 30 minute saam met hulle op die vloer deur te bring.

As jy ’n bietjie alleentyd het, word Pilates, swem en joga vir swanger vroue sterk aanbeveel.

Onthou, dit is baie belangrik dat jy jou ginekoloog raadpleeg voor jy enige oefening aandurf, ongeag hoe lig dit is. Elke swangerskap verskil; iets wat jou kollega of vriend doen, is dalk skadelik vir jou.

- Lindsay de Freitas

Bronne: kidshealth.org, fitpregnancy.com, pregnant.thebump.com