Hy was in st. 3 toe sy ma hom na die Kaktus Oppie Vlaktes-musiekfees by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees op Oudtshoorn neem. Daardie aand het hy Aardvark, Koos Kombuis en Johannes Kerkorrel sien optree. Toe besef William Barnard, vandag ook bekend as die sanger Willim Welsyn, ’n mens kan ook awesome musiek in Afrikaans maak.

“My pa was elke jaar DJ by die skoudans en ek het met goeie musiek soos dié van Creedence Clearwater Revival, Led Zeppelin en Rodriguez grootgeword. As kind wou ek eerder met speelgoedkitaartjies as met vragmotortjies speel,” vertel die alternatiewe sanger wie se jongste album, Maanplaas, onlangs uitgereik is.

Hy is op Oudtshoorn gebore en op Ladismith in die Klein-Karoo getoë. In sy st. 9-jaar het ’n vriend sy eerste CD sommer in ’n slaapkamer opgeneem en dié album, Feromoon Rose, is in 2003 uitgereik.

“Ek en ’n paar pelle het ná skool nog ’n CD opgeneem, en ons het my naam na Willim Welsyn verander omdat my huis die liberale plek was waar almal kom uithang het. Ons het die band die Sunrise Toffies genoem omdat ons die taai never-enders was wat partytjie hou tot die son opkom.”

Hul album Buikspraak is in 2006 uitgereik en Kompos en Kraai in 2008. Verlede jaar het Willim besluit om ook sy eie ding te doen. “Ons het ’n beleid dat ons nie love songs sing nie, maar ek wou nie die liedjies in die kas laat vergaan nie en het besluit om dit op ’n solo-album op te neem.

“Die naam Maanplaas is ’n fiktiewe plek waarheen ’n cowboy gaan wanneer hy uit die stad ry. Die album is die klankbaan van die drome wat hy saans droom. Ek sing oor die liefde, die dood en verlange,” sê Willim, wat deesdae vir ’n BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch studeer.

As jy hou van Valiant Swart en Rikku Lätti, sal jy mal wees oor sy album. Dis toeganklike rock met stewige lirieke en melodieë wat jou bybly.

VERJAARDAG: 17 September

WEBTUISTE: www.willimwelsyn.co.za

BESPREKINGS: Kontak Red Fox by 083-411-0901 of 021-889-9672

PLATEMAATSKAPPY: Next Music

VERSPREIDING: Next Music