Hy was net drie jaar oud toe hy die fliek La Bamba oor die sanger Ritchie Valens gesien het. Net daar het Quentin Prinsloo op die musiek-wêreld verlief geraak. Die fliek het hom geïnspireer om ook sanger te word.

“Ek het op laerskool gereeld by kunswedstryde en konserte gesing en in my st. 7-jaar ’n klein klankstelsel gekoop sodat ek self kon begin optree. Ek het regdeur my hoërskooljare R300 per optrede by kroeë en feeste verdien,” vertel die 25-jarige sanger.

Hy was 17 toe verteenwoordigers van die platemaatskappy Sting Music hom by ’n fees hoor sing en ’n platekontrak aanbied. Sy eerste album, Sê Dit Weer, is in 2003 uitgereik.

Sy jongste album, Reën oor My, is sy vierde, maar Quentin sê hy beskou dit as sy tweede CD. “Dit weerspieël wie ek regtig is. Daar’s 60 persent doef-doef-musiek, ’n lekker langarmweergawe van Koekie Loekie en ook dieper liedjies.”

Hy het die ernstiger liedjie Maskers self ge-skryf. Van die ander hoogtepunte op sy album is die pop-nommers Gee Dit vir My en Reën oor My. As jy van Nicholis Louw se musiek hou, sal jy ook Quentin se kommersiële pop-rock geniet.

Al bewonder hy sangers soos Jan Blohm en Albert de Wet, wil hy nie ander naboots nie, sê Quentin. Hy wil eerder homself op die verhoog en in sy musiek uitleef.

“Ek is nogal eksentriek wanneer ek optree. As ek wil huil, huil ek; as ek wil lag, lag ek. Ek sing oor die dinge wat ek voel.”

Quentin, wat in Pretoria gebore en getoë is en steeds hier woon, het Bakgat in Pretoria, die temalied van die fliek Bakgat!, saam met Albert de Wet opgeneem. Quentin was ook verlede jaar ’n aanbieder van die televisieprogram Fiësta.

“Maar sing kom eerste – ek sal depressief raak as ek nie kan sing nie. Ek het nog altyd geweet ek sal nooit ’n agt-tot-vyf-werklewe kan hê nie; ek wil net sing. Wanneer ek op die verhoog staan, is dit asof ek kan asemhaal. Dan leef ek.”

Volg Quentin op Facebook