Sy weet sommer haar nuwe liedjie Mamma Pappa het daardie iets. ‘‘Enige liedjie wat oor familie gaan en opreg bedoel is, is magic. Almal het ’n ma en ’n pa, en weet hoe dit voel om hulle te mis,’’ sê Nianell.

Die eerste Afrikaanse liedjie op haar splinternuwe dubbelalbum, Sand & Water, is inderdaad ’n kragtoer. Die album bestaan uit ’n CD met 11 Afrikaanse liedjies en een met 11 Engelse liedjies.

Sy het lank daaraan gewerk en nog langer oor die naam gewonder. Toe stel haar man, Andrew Thompson, voor sy moet dit Sand & Water noem, na ’n leenliedjie van die Amerikaanse sangeres Beth Nielsen Chapman.

‘‘Sy is my idol,’’ vertel Nianell. ‘‘Ek het Sand & Water vir die eerste keer in 1997 gehoor. Ek was nog nooit ’n goeie luisteraar nie – ek kan musiek net voel wanneer ek dit self maak. Maar toe ek Beth se liedjie hoor, kon ek die musiek binne-in my voel.’’

Nianell was ekstaties toe sy ses jaar later hoor ’n kennis ken Beth – en dié was toe juis op pad Amerika toe. "Toe vra ek hom om vir haar van my CD’s te neem..,"

Beth was mal oor Nianell se musiek en het laat weet sy luister daarna wanneer sy bedruk voel. Hulle het mekaar ontmoet toe Beth byna drie jaar gelede hier kom kuier het. ‘‘Sy was een van die eerste mense vir wie ek vertel het ek verwag ’n drieling,’’ onthou Nianell.

Toe sy onlangs vir Beth laat weet sy wil die liedjie Sand & Water opneem en haar album daarna noem, was dié in die wolke.

Die liedjie Ek Is Vrou op die album is ’n duet saam met haar suster, Riana Nel. ‘‘Dis asof ons klank groter en sterker raak wanneer ons saamsing; ons word ’n warrelwind,’’ sê Nianell.

Hou die Blink Kant Bo is nog ’n gunsteling. ‘‘Ek het so gehuil toe ons dit opneem dat ons ’n paar keer van voor af moes begin.’’

En wanneer jy na haar nuwe album luister, sal jy ook kort-kort van voor af wil begin sodat jy weer na al die liedjies kan luister.