Hy het homself ’n Man Soos Jan gedoop, want hy glo hy’s maar net nog ’n Jan Rap of Jan Alleman. Tog is daar net mooi niks gewoons aan Hanno van Heerden nie. Hierdie begaafde liedjieskrywer en sanger wie se eerste album, Die Ritme van Jou Naam, onlangs uitgereik is, is eerder ’n inspirerende rolmodel.

Teken in op Huisgenoot

Al is testikelkanker in 2006 by hom gediagnoseer en moes hy vanjaar drie operasies ondergaan, werk hy klaar aan sy volgende album.

“Ek is moeg gelê; ek begin nou weer aan die woorde vir liedjies dink,” sê Hanno (29).

Hy is in Pretoria gebore, maar het in Mtunzini in KwaZulu-Natal en in Villiers in die Vrystaat grootgeword. Hy het nooit formele sangopleiding ontvang nie, maar sy liedjies is dié van ’n man met ’n natuurlike aanvoeling vir woord en akkoord. Dis soveel meer as net musiek – dis stories wat jou meevoer.

Hanno het ná matriek teologie en drama aan die Universiteit van die Vrystaat studeer. Hy het as kind daarvan gedroom om vir die Proteas krieket te speel, maar toe hy as student by die a cappella-groep Bult se Boys aansluit, het die sanggogga gebyt en hy het “daarna nooit weer ’n krieketbal gegooi nie”.

Hy was in 2003 ’n finalis in die Zing!-sangkompetisie en het die Crescendo-sangkompetisie in 2006 gewen. Hy het ook al duette saam met kunstenaars soos Lize Beekman, Jak de Priester en Richard van der Westhuizen vir sy album opgeneem.

“Ek skryf oor die dinge wat in my hart lê, en ek skryf eintlik makliker wanneer ek ’n bietjie hartseer is,” sê hy.

Sy siekte het sy lewensuitkyk dramaties beïnvloed. “Ek probeer nou met ’n ligter gemoed na alles kyk en aardse goed maak nie meer vir my saak nie. Ek het eers baie met die Here baklei oor wat met my gebeur, maar ek het nou ’n dieper aanvaarding daarvan. Almal om my is so positief dat ek nie anders kan as om moed te hou nie. Al waarvan ek droom, is om oor vyf jaar nog hier te wees en nog musiek te maak.”

WEBTUISTE: www.mansoosjanband.co.za

BESPREKINGS: Stuur ’n e-pos na besprekings@mansoosjanband.co.za

VERVAARDIGING: Murray Lubbe

WEN ’N CD

Vyf lesers kan Hanno se CD wen. SMS die woord HANNO en jou naam en adres voor 31 Desember om 17:00 na 34922. Elke SMS kos R2.