Gerrie Pretorius se jongste album, Alles Pas, het pas die rakke getref, maar die donkerkopsanger hou deesdae ook sy lyf platevervaardiger en werk aan die model Tanya van Graan se debuutalbum.

Daarby het sy teaterrestaurant, Die Kalahari, onlangs op George geopen en tussen al die bedrywighede deur is hy ook nog besig met opnames vir ’n televisiereeks, Tjailatyd.

‘‘Ek is verskriklik mededingend,’’ erken Gerrie. Sy agtste CD is ’n lekker kombinasie van ligte musiek en popklanke. ‘‘Ek eksperimenteer met verskillende style,’’ verduidelik hy. ‘‘Dis belangrik vir my om myself uit te daag, anders sal ek stagneer en doodgaan.’’

Op die CD-omslag skryf die sanger: ‘‘Daar is ’n klomp mense daar buite wat deur die resessie geraak is, en ek wil met hierdie CD sê: Te hel daarmee, want ons gaan ons nog doodbekommer! Speel die CD hard, gooi ’n ietsie om te drink en nooi die buurvrou vir ’n dansie...’’

Hy glo musiek help ons om van die harde werklikheid te vergeet. ‘‘Dis soms nodig om van rekeninge en paaiemente te vergeet. Dis hoekom ons kunstenaars hier is – om mense te vermaak en hulle van die werklikheid te laat ontsnap.’’

Sy nuwe liedjies, Lekkerste Lyfie en Ek Wil Jou vir Altyd, is veral gewild, sê Gerrie. ‘‘Dit het eenvoudige, sterk melodieë.’’

Hy onderhandel nou met ’n televisiekanaal om sy reisprogram uit te saai. Vir Tjailatyd wil hy oor die wêreld heen reis en programme oor bekostigbare bestemmings aanbied. ‘‘Die program sal hopelik vanjaar uitgesaai word, en ons het reeds met die verfilming begin,’’ vertel hy opgewonde.

Sy teaterrestaurant op George is net die eerste van ’n hele paar, verklap hy. Al hou sy platemaatskappy, Celebrity Music Records, hom baie besig, wil hy nooit sy eie musiek laat vaar nie.

‘‘Ek beplan al klaar aan my volgende album. Ek gaan nooit uittree nie – ek gaan soos Neil Diamond wees en nog jare musiek maak,’’ beloof hy.