Gerhard Steyn is ’n liedjiemasjien. Hy kan ’n nuwe liedjie binne minute skryf en dit sal sowaar treffer-potensiaal

hê.

Sowat 80 000 eksemplare van sy derde CD, Breekbaar, is al verkoop en die sukses van dié album kan grotendeels

aan die weghol-treffer Baby Tjoklits toegeskryf word.

Sy nuwe album, Als Begin Eers Nou, is pas uitgereik en ’n hele paar liedjies daarop, soos Pantoffels en Pajamas, sal die gehore gaande hê.

“’n Vrou lyk sexy met haar pantoffels en pajamas,” lag Gerhard.

“Ek het eenmaal vir ’n meisie ge-SMS: ‘Cool bananas, ek like jou in pantoffels en pajamas’, en dié idee het vasgesteek. Toe ek aan my nuwe album begin werk, het ek besluit om ’n liedjie daaroor te skryf. Die idee is: Ek hou van jou nes jy is.”

Hy het verskeie van die liedjies op sy nuwe album binne minute geskryf, vertel hy. “Ek hou altyd ’n aantekeningboek byderhand, en as ek aan lekker lirieke dink, skryf ek dit dadelik neer. Wanneer ek dan later aan ’n album begin werk, blaai ek deur die idees wat ek vroeër neergeskryf het. Omdat hulle dan al lank in my kop broei, kom die liedjies vinnig.”

Terwyl hy byvoorbeeld besig was om die liedjie Diamante vir Jou in die ateljee op te neem, het hy ’n blaaskans geneem en sy gedagtes vrye teuels gegee.

“Ek het toe die liedjie Belowe Jou binne minute geskryf. Dis ’n trouliedjie, dit klink soos my troue eendag moet wees.

“Daar’s ook ’n paar lekker diep liedjies op die album soos Tydmasjien en Laaste Asem. My musiek het ’n boodskap. Ek wil hê dit moet iets vir mense beteken.”

Gerhard is ook opgewonde oor die album se titelsnit. “Die liedjie en die CD se naam is Als Begin Eers Nou,

want ek glo hierdie album gaan ’n groot een wees!”

Benewens die 11 splinternuwe Afrikaanse liedjies, het hy ook die Bryan Adams-treffers Everything I Do en All for Love opgeneem. “Ek is mal oor sy musiek.” Maar sy eie Engelse liedjie, Stealing Stars, is sowaar nog mooier. Luister gerus daarna – ons eie Gerhard klink soos ’n internasionale ster!